Updated SsangYong Korando focused on local buyers’ needs
- Vars stilering koppel elegante swier aan gespierde voorkoms
- Groter allooiwiele van 17 duim sorg vir parmantige houding
- Volledige lys standaardtoerusting verteenwoordig puik waarde
- Moderne petrolenjin lewer kragtige verrigting en suinige verbruik
’n Ingrypend aangepaste SsangYong Korando het sy buiging in Suid-Afrika gemaak. Mahindra SA, wat SsangYong se reeks voertuie plaaslik versprei, het terselfdertyd die modelreeks vereenvoudig, wat beteken dat die Korando voortaan as ’n enkelmodel met ’n petrolenjin en ’n volledige lys standaardtoerusting gebied word.
Die nuwe, petrolaangedrewe Korando 4x2-handrat spog met ’n kraakvars stileringpakket. Onder die hoofkenmerke tel splinternuwe kopligte met LED-aandagligte, asook ’n smaller sierrooster met swart maaspatroon en ’n opmerklike, sirkelvormige SsangYong-kenteken.
’n Groot, sekelvormige luginlaat met diepgemonteerde misligte aan weerskante dra ook by tot die nuweling se kopdraai-voorkoms.
In profiel beskou is die groter, aantreklike allooiwiele van 17 duim, wat die vorige 16-duim-weergawes vervang ’n sleutelkenmerk, terwyl die gedeeltelik kleurbypassende buitespieëls met geïntegreerde rigtingaanwysers ook aandag trek. Die laeprofiel-dakrelings beklemtoon die jongste Korando se vaartbelynde daklyn.
Die voorste skutplaat, drumpelstroke aan weerskante, en die agterskort is in kontrasterende swart afgewerk, wat die Korando se geharde sportnutsvoertuig-persoonlikheid beklemtoon. Die prominente agterligte met geïntegreerde misligte is aan weerskante van ’n groot laaideur geplaas wat wyd en diep oopmaak om gerieflike toegang tot die laairuim te verseker.
’n Dakgemonteerde drukvlerk met geïntegreerde derde remlig is ook deel van die Korando se uitgebreide lys standaardtoerusting, terwyl ’n verchroomde sierstrook bo die nommerplaathouer die agteraansig netjies afrond. Parkeerhulp agter is ook standaard, terwyl verdonkerde kantruite vir privaatheid en sekerheid sorg, en boonop hittewerend is.
Groot deure wat wyd oopmaak bied maklike toegang tot die ruim, aantreklike kajuit, wat deur luukse afwerkings gekenmerk word. Veral opmerklik is die weelderige doekstofbekleedsel en die metaalaksente, wat ’n deftige indruk skep.
Vergeleke met die vorige model is die lys standaardkenmerke aansienlik uitgebrei om groter waarde en funksionaliteit te bied. Onder die hoogtepunte tel elektries-beheerde ruite wat met ’n enkele druk van die beheerknoppie heeltemal oopmaak, ’n klankstelsel met ses luidsprekers, en togsnelheidsbeheer.
Die klankstelsel is versoenbaar met MP3-musiekleêrs, en bied ’n Bluetooth-koppeling vir selfoonoproepe. Daar is ook ’n USB-sok wat vir geheuestokkies en iPhone/iPad-koppeling benut kan word. Groot, sirkelvormige wyserinstrumente vir snelheid en toeretal is duidelik leesbaar, terwyl die ritrekenaar se syferuitleespaneel tussen die wyserinstrumente geplaas is.
’n Meerfunksie-stuurwiel bied kontroles vir die klankstelsel en die Bluetooth-selfoonkoppeling, en kan selfs in die ry veilig bedryf word. Daarbenewens is die banksitplek agter ter wille van veelsydigheid 60:40 verdeel.
Die aandryfstelsel van die jongste Korando bly onveranderd. Die maksimum-kraglewering van die tweeliterenjin beloop 110 kW by 6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 197 Nm by 4 000 r/min. ’n Sesgang-handratkas dra die krag na die voorwiele oor.
Die SsangYong se brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus beloop 7,51 liter/100 km, wat op ’n reikafstand van 760 km per tenk brandstof dui. Die brandstoftenk is 57 liter groot.
Die Korando se gevorderde veringstelsel maak voor van ’n onafhanklike MacPherson-veerstutstelsel en ’n teenkantelstaaf gebruik, terwyl meerskakel-vering met sleeparms en kronkelvere agter ingespan word.
Aktiewe en passiewe maatreëls sorg dat veiligheid in die jongste Korando volledig aangespreek word. Dubbele lugsakke voor, ABS-sluitweerremme en ’n immobiliseerder met ’n gekoppelde alarm tel almal onder dié SsangYong se hoogtepunte.
Die Korando bied ’n keuse van vier buitekleure: Flaming-rooi, Dandy-blou, Silent-silwer en Grand-wit. Die kleinhandelsprys beloop R324 995, wat onder meer ’n waarborg van vyf jaar/100 000 km, AA-noodbystand vir ‘n volle vyf jaar, en ’n vyf jaar/90 000 km-diensplan insluit.










